Onthou jy dae toe jy na ’n Afrikaanse CD geluister het en gewonder het: ‘Ai, waar kan ek daardie lied se bladmusiek in die hande kry?’ óf ‘Ons wil graag met kontemporêre eredienste in ons gemeente begin, maar waar kan ek goeie Afrikaanse kontemporêre kerkmusiek kry?’. Nee, waarskynlik onthou jy dit nie, want daardie dae is lankal verby! Flam is veel meer as net ’n uitgewer en verspreider van Afrikaanse kontemporêre kerkmusiek. FLAM wil die lof en aanbidding in kerke bevorder deur die bladmusiek van goeie kerkmusiek aan gemeentes beskikbaar te stel, wil veral die werk van opkomende liedjieskrywers aan die kerk bekendstel en aan hierdie liedere en skrywers blootstelling gee. FLAM luister na alle nuwe Afrikaanse CD’s wat op die mark verskyn om sodoende die beste wat op die mark is, aan gemeentes beskikbaar te stel. Maar FLAM is ook ’n gemeenskap van geestelike liedjieskrywers, uitgewers, aanbiddingsleiers en begeleidingsgroepe – ons noem dit die ‘Flameenskap’ of ‘Flammunity’. Die taakspan FLAM bestaan uit ’n groep aanbiddingsleiers wat op ’n gereelde basis al hierdie nuwe musiek aan bepaalde kriteria meet en indien daar aan hierdie kriteria voldoen word, word die musiek opgeneem in die korpus van FLAM-liedere wat via die internet deur gemeentes afgelaai kan word. Al die groot verspreiders van geestelike musiek, soos Maranatha, Merchant/Urial, Broken Records en Brettian, is vennote van FLAM en ook hierdie liedere word as FLAM-liedere versprei indien dit aan die kriteria voldoen. ’N KORT GESKIEDENIS Die opdrag van die Algemene Sinode In 2002, nadat die Liedboek in die kerk vrygestel is, was daar ’n groep lidmate wat aangetoon het dat die Liedboek té min, té laat was. Die grootste klagte was dat daar nie genoeg kontemporêre (‘band’) musiek was nie en dat die jeug (wat die kinders en veral die hoërskool- en naskoolse jongmense insluit) aan die kortste end getrek het. By die daaropvolgende Algemene Sinode van die NG Kerk het die sinode ’n taakspan in die lewe geroep wat ’n meganisme moes skep waardeur die kerk nuwe, Afrikaanse kontemporêre kerkmusiek op ’n voortdurende basis kon invoer. Die “Projekspan vir nuwe musiek” het Flam geword na aanleiding van Jer. 20:9 waar Jeremia sê “En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos ’n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie.” FLAM wil daardie vuur aansteek, sodat ons nooit oor die Here sal kan stilbly nie! Die grootste struikelblokke waarteen FLAM deur al die jare heen te staan gekom het, was maar altyd finansieel. Die droom was van die begin af om bladmusiek, sowel as CD’s aan gemeentes beskikbaar te stel, maar die nodige fondse kon nie dadelik gevind word nie. Die droom van Flam het geblyk ’n lugkasteel te wees. Maranatha het as vennoot aan boord gekom en het tussen 2004 tot 2008 twee FLAM CD’s uitgebring, Flam Volume 01 en Roeping: Lof. Alhoewel FLAM en MAR Gospel Music Publishers nog steeds saamwerk, is die amptelike vennootskap aan die einde van 2008 om bepaalde redes verbreek. Bybel-Media het in 2010 aan boord gekom en FLAM se beskeie drome het skielik vlerke begin kry! Webtuiste Dit was van die begin af duidelik dat ’n harde kopie bundel met bladmusiek onbetaalbaar duur sou wees. Daarom was die besluit geneem om die musiek via die internet te publiseer. Met die hulp en samewerking van CCLI (Christian Copyright Licensing International) kon Flam die bladmusiek gratis aan gemeentes beskikbaar stel. Gemeentes moet slegs oor die nodige lisensie beskik om die musiek af te laai. Tot in Junie 2007 is Flam se bladmusiek op die webtuiste van die AJK gehuisves. Vanaf Junie 2007 het Flam ’n eie webblad (www.flam.co.za). In Junie 2009 is die hele webblad – in samewerking met Bybel-Media se IT-afdeling – sorgvuldig oorgedoen en bygewerk. Individue het ook nou toegang tot die webtuiste gekry en 30 sekonde klankgrepe is bygevoeg sodat jy eers na die lied kon luister voordat jy die bladmusiek aflaai. Die leadsheets is uitgebrei om chordsheets en hymnsheets in te sluit. Nou kan individue deur middel van Bybel-Media se e-winkel ook die bladmusiek en mp3’s aankoop. In Mei 2011 was daar reeds meer as 350 liedere op www.flam.co.za beskikbaar en meer as 70 van hierdie liedere het óf volledige mp3-snitte óf guidetracks, backtracks en volledige klavierbegeleiding. Flam Musiek-Uitgewers In 2010 het die taakspan Flam besluit om ’n eie uitgewer te begin. Flam Musiek-Uitgewers se kantoor is in Wellington, aangesien dit ’n deel uitmaak van die Bybel-Media groep. Behalwe die bestuur van die kopiereg van liedere, is Flam Musiek-Uitgewers ook verantwoordelik vir die maak van CD’s en DVD’s. In Mei 2011 het die CD F-luister verskyn, saam met ’n hardekopie bundel “Volume 03”. Die CD 'Fluistering' het ook kort daarna verskyn. Behalwe die F-luister-reeks CD’s gee Flam Musiek-Uitgewers ook ’n DVD-reeks ‘Brandstof’ uit. Hierdie DVD-reeks bevat twee 10 minute praise en worship sessies – met ’n meegaande Powerpoint-aanbieding wat outomaties loop. Die doel van die reeks is om kleingroepe en gemeentes te help met hul musiekbediening. Flam Live Flam het sedert 2009 ’n band wat by geleentheid optree by gemeentes en ander geleenthede. Die groep bestaan hoofsaaklik uit die lede van die Flam taakspan. Die hoofdoel van die groep is om die musiek van Flam bekend te stel by gemeentes. Die Projekspan FLAM Die projekspan Flam is die hart van die Flam-gemeenskap. Hierdie musiekleiers het ’n brandende passie vir dit wat hulle doen.  | Ben Klut | | Voorsitter, Kopiereg en FLAM Gemeentesang | | Ben is studenteleraar by die Universiteit van Johannesburg, in die NG Kerk Melville-Kruisgemeente. Hy is ’n musiekleier en speel kitaar. |  | Marcus Marinus | Onder-voorsitter, Kruisfuur (Musiek vir die jeug – veral tieners) Webtuiste | | Marcus is predikant in Krugersdorp-Oos. Hy is ’n baskitaarspeler en was lid van die band ‘AudioAltaar’. | | | | Johan Engelbrecht | | Notering en Flammikidz | | Johan is predikant in Hartenbos. Hy is verantwoordelik vir die setwerk van Flam. Johan is ’n musiekleier wat kitaar, klavier en viool speel. | | Rudi Swanepoel | | Skriba | | Rudi Swanepoel is predikant by die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg. Hy kan baie goed fluit en behartig die administrasie van die Flam Taakspan. | | | | Johan Steenkamp | | Kruisfuur (Musiek vir die jeug – veral tieners) | | Johan is predikant by die NG Kerk Jeffreysbaai (Jeugleraar). Hy is ‘n kitaarspeler (akoesties en elektries). Sy band ‘OudioAltaar’ het in 2008 hul eerste CD uitgereik. | | |  | Johann Schutte | | Kersflam | | Johann is predikant by die NG Kerk Sonstraal in Durbanville. Hy is ’n klavierspeler en sanger. | | |  | Irenee Heyns | | Kersflam | | Irenee is predikant by die NG Kerk Kenridge. Hy is ‘n musiekleier en speel akoestiese kitaar. | | |  | Carli Lessing | | FLAM Gemeentesang | | Carli is ’n musiekleier en bestuuder van www.wins.co.za – ’n webtuiste wat lof & aanbidding bevorder. Sy het reeds drie CD's die lig laat sien. | | | | Faani Engelbrecht | | Flammikidz en Bestuurder: Flam Musiek-Uitgewers | | Faani is predikant (met o.a. opdrag jeug en musiek) by die NG Kerk Goodwoodpark, asook die bestuurder van Flam Musiek-Uitgewers.
| | Izelle Claassen | | FLAM Gemeentesang | | Izelle is ’n professionele musikant en onderwyser (viool), tree gereeld saam met kunstenaars soos Louis Brittz op en is musiekleier by PUK-Kandelaar gemeente in Potch’. | | Christo Botha | | FLAM Gemeentesang | | Christo is ’n drummer en predikant by die NG Toringkerk in die Paarl. | | | |
Adviserend | Gerda Engelbrecht | | Taalkundige versorging | | Gerda is Assistant-redakteur en senior taalversorger by Media24. Sy is besig met haar M-graad in Afrikaans. | | | | Riaan Steyn | | Musikale adviseur, Klavierbegeleiding & MP3-opnames | | Riaan is predikant (met opdrag musiek) in Welgemoed. Hy besit Traxtudio-ateljees met takke in Kaapstad en Gauteng en is 'n professionele vervaardiger, verwerker, sessiemusikant en “sound designer”. | | | | Prof Johan Cilliers | | Teologiese versorging | | Prof Cilliers is dosent in Praktiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. | | | | Neil Büchner | | Webtuiste en Bemarking | | Neil is Handelsmerkbestuurder by Bosman Family Vineyards in Wellington en musiekleier by NG Kerk Wellington Moedergemeente. Hy is ’n gospelkunstenaar met ’n ATKV-lier toekenning agter sy naam vir sy debuut CD, Element. | |